Youth
Luke 10 Transformation
Prayer Initiatives
Recommended Books

 

Home About Us Relevant Websites News Downloads
News

Ramadaan Gebedsfokus: 11 Aug - 9 Sept 2010

Hierdie oproep tot gebed vir Moslems het oorspronklik ontstaan tydens ‘n vergadering van Christenleiers in die Midde-Ooste in 1992. Verskeie gelowiges het sterk gevoel dat dit die Here se begeerte is dat soveel Christene as moontlik vir die Moslemwêreld moes bid. ‘n Gebedsbeweging is beplan wat sou saamval met die vasmaand Ramadaan wat ‘n volledige maansiklus volg. (In 2010 vind dit plaas vanaf 11 Augustus tot 9 September).

Daar is minstens twee redes waarom die “30 dae” in die maand Ramadaan moes val: (1) sodat Christene gedurende ‘n vasgestelde tyd in die jaar met Moslems kan identifiseer, (2) om die Here aan te roep vir ‘n Goddelike ingrype in die lewens van Moslems gedurende hierdie tyd van die jaar wanneer hulle besonder godsdienstig is. Let asseblief daarop dat ons gebede vir hulle gedurende die maand Ramadaan nie beteken dat ons konformeer met Moslemgewoontes van vas en gebed nie. As gelowiges in Jesus stem ons nie saam met Islamitiese idees, teologieë en gewoontes nie. Die “30 dae” beweging beklemtoon God se liefde vir die Moslems. Ons moedig alle gelowiges aan om ‘n gees van nederigheid, liefde, respek en diensbaarheid teenoor Moslems te toon. Vir meer inligting besoek asseblief The 30-Days Prayer Network. Webwerf: http://www.30-days.net

Dag 1: Omtrent verhoudings met Moslems soos dié van Jesus
Bid dat wanneer Christene met Moslems in gesprek tree, hulle dit sal doen op grond van die kernopvattings van die Christelike geloof, en dit nie sal wegsteek of verklein nie. Bid dat hulle onbeskaamd Jesus Christus, die Essensie van die evangelie, sal verteenwoordig (1 Kor.2:2). Die boodskap moenie verwar word met die algemene Christendom, patriotisme, kultuur of beskawing nie. Bid dat hulle woorde en getuienis net die woorde en getuienisse vanuit die Skrif sal gebruik (Matt.12:36, Eks.20:16, Matt.7:12, Matt.22:39). Bo alles, bid dat Christene met omsigtigheid en wysheid sal getuig, maar nie sal huiwer om van elke geleentheid gebruik te maak nie (Kol.4:5, Jak.3:17-18). ’n Christen moet alle mense met agting behandel en nooit 'n gespreksgenoot aanval nie (1 Pet.3:15).

HOE KAN EK GEDURENDE RAMADAAN BID?
Oor die volgende paar weke kan jy, soos wat die Here jou lei, op verskillende maniere vas en bid. Sommige dae sal vyf minute al wees wat die Here van jou vra en soms sal jy miskien gelei word om vir baie langer tye te bid. Jy kan hierdie boekie gedurende jou eie gebedstye gebruik, of wanneer jy saam met ander bid. Jesus het spesiale beloftes van seën gegee vir Christene wat as 'n groep saamstem wanneer hulle bid (Matt.18:20). Gebruik jou Bybel soveel moontlik wanneer jy bid. Ons het dwarsdeur die boekie verskeie Bybelverwysings ingesluit. Dit sal goed wees om oor hierdie teksverse te dink en dit ook in jou gebede uit te spreek. Proklameer dit voor die Here. Dit sal jou geloof versterk en vir jou nuwe insigte gee wat op Sy Woord gebaseer is.

Ons moedig jou aan om kreatiewe maniere te vind om soveel as moontlik mense by hierdie gebedsfokus te betrek: 1) Jy kan byvoorbeeld weeklikse byeenkomste reël of twee keer per week bymekaar kom oor die 30 dae periode saam met jou kerk, jou jeuggroep, selgroepe of kindergroepe, of 2) nooi bv. vriende en kennisse uit vir ‘n spesiale ete by jou huis rondom die gebedsonderwerp van die dag. 3) Jy kan ook bv. soveel moontlik uitvind oor 'n spesifieke Moslemkultuur, hulle kos, kleredrag, musiek, ens.

RIGLYNE: Dit is beter as een persoon gekies word as die leier/fasiliteerder van die groep. (Hierdie persoon kan leiding gee en groepsgebondenheid bewerk.) Dit is altyd goed as die groep hulle gebede fokus op een onderwerp op 'n slag en nie tussen onderwerpe rondspring nie. Elke persoon moet eers ‘n bietjie wag voordat hy na ‘n ander onderwerp oorgaan om sodoende vir elke bidder ‘n kans te gee om klaar te bid oor ‘n spesifieke onderwerp (1 Kor.14:40).

God is kreatief en Hy het ons na Sy beeld geskape. Ons kan dus nuwe idees verwag wanneer ons na Hom soek. Die Heilige Gees sal jou lei (Rom.8:26).

VRAAG: Jesus het gesê: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” Is my idees oor en gesindheid teenoor Moslems in lyn met hierdie opdrag? The 30-Days Prayer Network. Webwerf: http://www.30-days.net/

Dag 2: Vriendskappe met Moslems
Gesprekke tussen Moslems en Christene bied ons die geleentheid om Moslems te verstaan, verhoudings te bou, betrokke te wees, vrede te maak en ons geloof te deel. Bid dat Christene daarna sal strewe om die evangelie met respek en vrymoedigheid met ander te deel, sonder kompromie – net soos Paulus met mense “geredeneer” het (Hand.17:2, 17). Die bediening van versoening is aan ons toevertrou (2 Kor.5:18-19). Bid dat Christene wat by die bediening onder die Moslems betrokke is, deurbrake sal beleef met die maak van dissipels, ook onder hierdie kosbare groep mense. Bid dat hulle die genade sal ontvang om opofferend lief te hê en vrede te bewerkstellig. Bid vir spesiale geleenthede om gedurende die volgende 30 dae Jesus se liefde met Moslems te deel.

Dag 3: Die Muezzin
Regoor die Islamitiese wêreld roep mans wat 'muezzin' genoem word, vyf keer per dag ander op tot gebed met ’n luidspreker uit ’n minaret (toring) wat langs die moskee staan: teen dagbreek (fajr), twaalfuur die middag (dhuhr), in die namiddag (asr), teen sonsondergang (maghrib) en as dit donker word (isha’a). Op Vrydae (soos vandag) is alle manlike Moslems veronderstel om die twaalfuurgebedstyd by te woon – dit gaan gewoonlik gepaard met ’n preek. Soms word opnames gebruik, maar hulle verkies ’n lewende stem. In die Weste en in nie-Islamitiese lande mag die muezzin dikwels net die oproep oor die radio of in die binnehowe van plaaslike moskees maak, omdat wetgewing indringende geraas verbied. Soos met alle openbare figure, bv. leraars en politici, is eie eer en prestige vir sommige muezzin 'n versoeking. Bid vandag vir die muezzin in jou eie land en oral ter wêreld, dat hulle ’n persoonlike ontmoeting met die lewende God deur Jesus Christus sal hê. Bid dat Moslems, te midde van baie 'stemme' en boodskappe, God se stem, deur die werking van die Heilige Gees, sal hoor.

Dag 4: Sirië
In Jesus se tyd het “berigte oor Hom deur die hele provinsie Sirië versprei” (Matt.4:24) en groot skares het na Hom gekom en Hom gevolg. Sommige van die oudste kerke van die Christendom kan in Sirië gevind word en is 'n bewys van die omvang van Jesus se invloed in die gebied. Tans is meer as 90% van die Siriese bevolking Moslems. Maar een (oorwegende) Moslemgroep, naamlik die Koerde, is besig om op die evangelie te reageer. Daar is heelwat van hulle wat in Christus glo en sommige kom selfs in hulle eie Koerdiese gemeentes byeen. Bid asseblief dat die evangelie weereens in die hele Sirië gehoor sal word en dat Moslems tot geloof sal kom, sal begin bymekaarkom en mekaar bemoedig. Loof die Here dat die Moslem-Koerde hulle tot Jesus wend! Bid vir hulle geestelike groei en dat die Here plaaslike evangeliste uit die Christelike sowel as uit die Moslem-agtergrond sal opwek om na hulle uit te reik.

HET JY DIT GEWEET OOR MOSLEMS?
Inisiële Openbarings: Volgens Moslems het Mohammed, op die ouderdom van 40, in 610 nC, begin glo dat hy openbarings en opdragte van die aartsengel Gabriël ontvang het (Gibrail in Arabies). Hierdie “openbarings” vorm die basis van die Koran. Mohammed het verklaar dat sy openbarings die finale en superieure boodskap van die Een Ware God was, hoewel hy aan die begin self getwyfel het of hy ‘n profeet was. Hy het afgodediens verban en het burgerlike en godsdienstige orde in Medina, en later ook in Mekka, ingestel. Mohammed is in 632 nC aan natuurlike oorsake in Medina, Saoedi-Arabië, dood.

Dag 5: Saoedi’s in die oliebedryf
Saoedi-Arabië beskik oor die grootste oliebronne ter wêreld, asook die heel beste tegnologie in die oliebedryf. Hulle is hoofsaaklik Soennitiese Moslems, maar vanuit hulle perspektief word hulle almal as Moslems gebore. Die Koran en die tradisies rakende Mohammed is die grondslag van die wet in Saoedi-Arabië. Sjiitiese Moslems word vervolg, maar word toegelaat om hulle godsdiens in die nedersettings en dorpe te beoefen. Om proseliete te maak (om mense tot 'n ander geloof oor te haal) is nie strafbaar met die dood nie, maar met tronkstraf en verbanning (vir sommige is die verlies van hulle werk net so erg soos die doodstraf). Bekering self word deur die Koran verbied en die straf is die dood. Baie van hulle het nog nooit die verkondiging van die evangelie op so ’n manier gehoor dat dit hulle sou beweeg om aan die opgestane Here Jesus gehoorsaam te wees nie. Bid vir die duisende Saoedi’s wat by die oliebedryf betrokke is, dat hulle die heerlikheid van God sal leer ken, wat van Jesus Christus uitstraal (2 Kor.4:6). Baie van hulle woon in die volgende stede, dorpe, hawens en olieboornedersettings: Dhahran, Ras Tanura, Jubail, Dammam, Al-Khobar, Hofuf, Abqaiq, Udhailiyah en Shaybah. Bestee tyd om elkeen van hierdie dorpe in gebed aan die Here op te dra.

Dag 6: Die Fulani van Nigerië
Meer as 15 miljoen van die Fulani van Nigerië woon in klein nedersettings en dorpe in die oorwegend Moslem noordelike streek van die land. Daar is talle 'substamme' en clans van die Fulani maar in Nigerië val hulle hoofsaaklik in vyf groot groepe: die Adamawa (1,1 miljoen), die Haabe (2,6 miljoen), die Sokoto (2,7 miljoen), die Toroobe (7,5 miljoen) en die Mbororo (2,3 miljoen). Fulani-huishoudings bestaan uit ’n manlike leier, een of meer vroue, 6-12 kinders en ander familielede. Vir meer inligting oor wat die Here onder die Fulani doen, besoek: http://www.morethandreams.tv Bid vir die arbeiders onder die Fulani en dat die Here die Fulani-leiers en imams kragdadig sal red. Bid vir vrede en versoening – daar is al dekades lank onrus tussen die Moslems en die Christene in die gebied.

Dag 7: Die Moslems van Rajastan in Indië
Die Moslems wat in die staat Rajastan in die weste van Indië woon, bestaan uit ongeveer 60 verskillende groepe. Uit die geskatte 61 miljoen Rajastani-bevolking is 88,8% Hindoes, 8,5% Moslems, 1,4% Sikhs en 1,2% Jains. Die Moslems praat hoofsaaklik Hindustani (’n mengsel van Hindi en Urdu), maar die meeste gebruik en lees die Hindi-skrif. Daar is nog nie ’n volledige Bybel in Hindustani nie. Christene bereik die Moslems deur die gebruik van ’n eenvoudige “kurbaan-verhaal”, wat die belangrikste offerandes in sowel die Ou as die Nuwe Testament beskryf. Daar is sommige wat die verhaal van God en die mens gebaseer op die Bybel, mondelings kan oorvertel. Dit is ’n groot hulp vir ongeletterde gelowiges en die wat na God soek. Bid vir voormalige Moslems onder die Rajastani wat die Messias in Sy volheid gevind het; dat hulle aan die enigste ware en lewende God gehoorsaam sal wees. Hou aan bid vir hulle geestelike groei en dat daar binnekort ’n volledige Bybel in Hindustani sal wees! Bid by name vir die redding van die Rajastani-Moslems uit elk van die vernaamste etniese groepe, naamlik die Pathan, Shaikh and Sayyid.

Dag 8: Die mensegroepe van Soedan
Die Soedannese bevolking is saamgestel uit honderde etniese, taal- en kulturele groepe en clans wat bestaan uit ’n geskatte totaal van 2 200 groepe (dit sluit die clans in). Die volgende is ’n lys van 15 van die 36 groepe in Soedan wat uit meer as 100 000 mense bestaan en deur sommige gelowiges beskou word as dié wat die grootste nood aan die evangelie het. Daar is nie onder een van hierdie groepe 'n langtermynuitreik in hulle eie taal nie (nie deur buitelanders of Soedannese gelowiges nie). Hierdie 15 groepe tel gesamentlik moontlik meer as 20 miljoen mense met sover bekend geen gelowiges onder hulle nie. Neem asb. tyd om elke groep se naam in gebed aan die Here op te dra: 1. Daju, 2. Danaagla/Kanuuz, 3. Darfoer-gebied NSA (Noordelike Soedannese Arabiere), 4. Oostelike gebied NSA, 5. Fellata: Fulani-sprekend, 6. Fellata: Hausa-sprekend, 7. Kanuri, 8. Kordofan-gebied NSA, 9. Masalit, 10. Nylgebied NSA, 11. Noordelike gebied NSA, 12. Rashaida,13. Suidoostelike gebied NSA, 14. Wit-Nylgebied NSA, 15. Zaghawa. Bid asseblief ook dat die Bybel binnekort in die Dajutaal vertaal sal word.

HET JY DIT GEWEET OOR ‘N MENSEGROEP?
‘n “Mensegroep” kan gedefinieer word as: ‘Groep mense wat ‘n verwantskap met mekaar het en waarin die evangelie versprei kan word sonder beduidende hindernisse in begrip en aanvaarding.’ Die hindernisse kan wees (1) Godsdiens (2) Taal (3) Sosiale Interaksie en (4) Geografie (Soedan is bv. die grootste land in Afrika).

Dag 9: Moslems in Noorweë
Die Moslembevolking in Noorweë word op 150 000 uit ’n bevolking van 4,8 miljoen geskat. Die eerste moskee is in 1974 gebou. Meer as 80 000 Moslems is geregistreerde lede van bykans 100 Moslemgemeentes. Vandag is Noorweë, soos die res van Europa, ’n multi-kulturele samelewing. Die meerderheid Noorweërs is lidmate van die Lutherse Kerk (meer as 80%) maar betreklik min is aktief en baie hang gelowe aan wat nie werklik in ooreenstemming met die Bybel is nie. Volgens een opname het 32% van Noorweërs aangedui dat hulle “glo dat daar ’n god/God is”, terwyl 47% geantwoord het dat hulle “glo dat daar ’n tipe gees of lewensmag is” en 17% "glo nie dat daar enige tipe van gees, god of lewensmag is nie". Sommige kerke bedien Moslemgemeenskappe al jare lank. Bid vir elke Christen en gemeente wat na Moslems uitreik, dat hulle vrymoedig sal wees en dat God se Gees deur hulle sal lewe bring aan Moslems. Bid vir alle Moslem-immigrante, dat hulle gelowiges sal ontmoet waar hulle hulle ook al vestig, en dat die gelowiges hulle aan Christus sal bekend stel. Vra ook vir die Here dat Hy Hom aan die Noorweegse gemeenskap sal openbaar, deur die media en ook deur kerke en gelowiges.

HET JY DIT GEWEET OOR DIE KORAN?
Moslems rondom die wêreld gebruik die Koran vir leiding in hulle geloof sowel as in hulle lewens. Die Koran bestaan uit 114 hoofstukke wat suras genoem word en wat min of meer gerangskik is van die langste hoofstuk (sura 2) tot die kortste hoofstuk (slegs ‘n enkele lyntjie, sura 108). Die inleiding tot die skrif is die eerste hoofstuk, wat “Die Opening”, al-Fatiha, genoem word. Dit is ‘n tipe gebedsgedeelte wat in die Moslems se gebedsritueel, salat (gebed), gebruik word. Elke hoofstuk is opgedeel in verse, ayas, waarvan die totale aantal bereken word as tussen 6204 en 6236. Die aantal verse verskil na aanleiding van watter tegniek gebruik word. Die Koran is min of meer net so lank soos die Nuwe Testament. Die 'Jesus' van die Koran is beslis nie God nie, ook nie die Seun van God nie, kan nie met God “geassosieer” word nie en is ook nie die “een van die drie” nie.
Die Koran het egter soos die Bybel die algemene geloof in ‘n Skepper God teenoor wie die mens verantwoordbaar is. In Islam, is daar baie min aanduiding oor hoe en wie God is. Die God van die Moslems is nie dieselfde God wat Christene aanbid nie. Gevolglik beskryf die Koran die liefde van god/Allah vir mense as voorwaardelik en bevat dit nie 'n opdrag aan die mens om god/Allah of mekaar lief te hê nie.

Dag 10: Voorbereidings vir gebed
Vandag sal Moslems wêreldwyd hulle weer voorberei vir die Vrydaggebed. Toegewyde Moslems sal die hele week lank rituele wassing uitvoer om hulle vir gebed te reinig. Rituele reiniging met water op spesifieke tye is vir Moslems baie belangrik. Dit verskil baie van dit wat Christene oor gebed leer. In Islam is dit onmoontlik om te bid sonder die nodige rituele reiniging met water, of, in die afwesigheid van water, met sand. Islamitiese lering oor gebed bevat lang gedeeltes oor presies hoe die reinigingsproses moet plaasvind. Nie een van die stappe mag oorgeslaan of op ’n verkeerde manier uitgevoer word nie, anders sal die gebed sy verdienste en waarde verloor. Hierdie rituele reiniging kan ongelukkig niemand red of heilig nie. Bid dat die Moslems die erns van sonde en die heiligheid van God sal leer ken sodat hulle vir altyd bevry kan word van die idee dat water hulle geskik kan maak om God te ontmoet. Bid vir Moslems wat jy persoonlik ken, vir Moslems in jou stad en op ander plekke (Heb.8:9-12).

PILARE VAN ISLAM
Die Islamitiese godsdiens word uitgeleef volgens vyf hoof pilare wat vereiste godsdienspraktyke vir alle volwasse Moslems is:
1. Voordra van die kreet (shahada): “Daar is geen God behalwe Allah nie en Mohammed is sy profeet”.
2. Gebed (salat) – vyf keer per dag.
3. Gee van aalmoese (zakat) – beide verpligte en vrywillige gawes aan armes
4. Vas (saum) – veral gedurende die “heilige’ maand Ramadaan.
5. Pelgrimsreis (hajj) – ten minste een keer in ‘n leeftyd na Mekka, bekend as die Hajj.

Dag 11: Lyding in Basrah, Irak
Al Basrah (ook genoem Basorah) is die hoofstad van die Basra-provinsie in Irak en het ’n geskatte bevolking van 3,8 miljoen. Basrah is ’n belangrike hawestad. Daar word beraam dat minstens 90% van die stad op olievelde gebou is. Die gas- en petroldampe is deel van die daaglikse lewe van Basrah se inwoners. Ongeveer 20% van die bevolking is Soennitiese Moslems, maar die meerderheid is Sjiiete. Daar is ’n baie klein getal gelowiges. Bid dat die Here ampsdraers en gemeenskapleiers sal oproep vir wie die welstand van die mense onder hulle net so belangrik is as hulle eie voorspoed en bevrediging. Die mense van die stad kry baie swaar. Bid vir deurbrake in die onderwys en werkverskaffing. Baie mense is wanhopig oor hulle toekoms. Bid dat Basrah se Moslems ’n ontmoeting met die Messias as die Bron van hoop sal hê, deur middel van die televisie, radio of persoonlike getuienis.

HET JY DIT GEWEET VAN MOSLEMS?
Daar is ongeveer 1,5 miljard Moslems wêreldwyd: Afrika 400 miljoen, Midde-Ooste 250 miljoen, Asië 800 miljoen, Europa (Rusland ingesluit) 38 miljoen, die Amerikas 5 miljoen. (Al die syfers is benaderde syfers)

Dag 12: Iran
Uit ’n bevolking van 71,2 miljoen in Iran is slegs 0,35% Christene. Iran het Saoedi-Arabië verbygesteek en neem nou die tweede plek in op die World Watch List (WWL) van lande wat Christene vervolg. Baie Christene wat vrygelaat is, word gemonitor en gedreig. Daar is groot vrees onder Christene as gevolg van die arrestasies. In 2009 het die Iranse owerhede ’n aantal kerke gesluit. Die hoofrede vir hierdie sluiting was die feit dat baie nuwe bekeerlinge uit Moslemgeledere dienste by dié kerke bygewoon het. Dank die Here vir mense uit ’n Moslem-agtergrond in hierdie nasie wat hulle tot Christus bekeer. Bid asseblief vir baie meer werkers in hierdie moeilike oes, veral omdat baie sendelinge as gevolg van vrees en dreigemente na hulle eie lande terugkeer. Bid ook vir diegene wat probeer om Bybels, opleiding en bemoediging te gee aan die ongeveer 125 000 gelowiges uit ’n Moslem-agtergrond en nuwe bekeerlinge uit Moslemgeledere. Webwerf: http://members.opendoorsusa.org/site/PageServer?pagename=World_Watch_List_2010

Dag 13: Khadijah
Solank as wat Mohammed met Khadijah getroud was, het hy nie met ’n ander vrou getrou nie omdat hy so lief was vir haar. Sy was net so toegewyd aan hom. Toe hy sy eerste openbarings ontvang het, het sy ’n belangrike rol gespeel om hom te oortuig dat hy besig was om ’n profeet te word. Sy het selfs haar rykdom gebruik om Islam te bevorder, soveel so dat sy selfs vervolg is as gevolg van haar ondersteuning vir haar man. Daar is letterlik honderde duisende en moontlik meer as ’n miljoen Moslemvroue in die wêreld met die naam Khadijah. Baie van hulle weet min omtrent Mohammed se vrou of van haar positiewe voorbeeld in baie aspekte van die lewe. Bid vir die lewende Khadijahs, dat hulle die Here Jesus deur middel van vriende, die radio, literatuur, televisie en ander media sal leer ken. Bid vir die redding van Moslemvroue en dat hulle hul mans sal beϊnvloed om Jesus as Verlosser aan te neem.

Dag 14: Die Luo van Kenia
Die Luo is die tweede grootste etniese groep in Kenia met ongeveer vyf miljoen mense (die grootste groep is die Kikoejoe, met ongeveer 7,5 miljoen). Die bevolkingsgetal is ongeveer 39 miljoen. Tradisioneel woon hulle in die omgewing van die Victoria-meer, maar hulle is ook oor die land versprei. Daar is feitlik geen inligting beskikbaar oor Moslems onder die Luo, Kikoejoe, Kalenjin of Kamba in Kenia nie – etniese groepe waarvan die meerderheid stamme Christene is. Dra die vyf miljoen Luo in Kenia deur gebed aan die Here op. Vra vir werkers in hierdie oes. Bid ook vir die groepe gelowiges in Oos-Afrika, dat hulle nie die Moslems in hulle geledere oor die hoof moet sien nie, maar hulle in liefde sal ontmoet en vrymoedig met hulle oor Jesus sal praat.

Dag 15: Wat is besig om in Dubai te gebeur?
Die afgelope aantal jaar het Dubai ’n wêreldstad met glansende wolkekrabbers en ommuurde villas geword. Ongeveer 85% van die inwoners kom nie oorspronklik uit die Emirate nie. Die meerderheid buitelandse werkers kom uit Indië, Pakistan, Bangladesj and ander Arabiese lande. Die Verenigde Arabiese Emirate het ’n bevolking van vyf miljoen: Moslems 65%, Hindoes 17%, Christene 9%, Boeddhiste 4%, ander of onbekend 5%. Die stad het beslis ook ’n donker kant. Die groot bedrae geld in Dubai se finansiële en vaste-eiendomsmark lei tot allerhande wettige en onwettige aktiwiteite. Baie van die buitelandse werkers wat hulleself as Christene beskou, is dit net in naam. Bid dat hierdie gelowiges werklik ’n voorbeeld vir die Moslems en nie-Moslems sal wees en sal illustreer wat dit beteken om volgens die gebooie van die Here te leef (Matt.4:16, Joh.8:12). Bid ook vir die redding van mense in die Emirate, ander Arabiere, die Pakistani’s en die Bangladesjers. Die Emirati-samelewing is geslote vir buitestaanders. Die werklike kontak tussen Emirati’s en nie-Emirati’s is redelik beperk. Bid vir geleenthede vir mense in Dubai om Jesus te ontmoet.

Dag 16: Moslems in Toronto
Groter Toronto is waarskynlik die stad met die grootste aantal kulture ter wêreld, en huisves nou moontlik meer as 300 000 Moslems van regoor die wêreld (statistiek wissel). Drie van die stad se digsbewoonde toringwoonstelgebiede, naamlik Thorncliffe Park, Crescent Town en Dixon Park, is oorwegend Moslem. Hier woon mense uit Afghanistan, Pakistan, Bangladesj en Somalië. Elke vierkante kilometer van hierdie woongebiede huisves tot soveel as 20 000 mense. Die afgelope jare het ’n aantal gelowiges daarin geslaag om teenoor vriende van die hoop wat hulle in Christus het, te getuig. In baie gevalle word Moslems vir die eerste keer uitgenooi om in ’n Christen se huis te kom. Wanneer Moslems aan Christus voorgestel word, is daar baie wat wegdraai, maar ander word sterk deur Hom aangetrek! Bid dat Jesus geëer sal word in sowel die lewe van gelowiges as dié wat vir die eerste keer van Hom hoor. Bid ook dat Kanada se Moslems werk en hoop sal kry en ’n gevoel dat hulle in die land tuis is. Bid vir hulle verlossing.

Dag 17: Die Vrydagpreek
In die groot stede van Pakistan en Afghanistan, asook in honderde nedersettings en dorpe tussen hierdie stede, sal duisende grootliks ongeletterde Pastjoen-mans vandag luister na preke wat oor luidsprekers kom. Pastjoen-vroue werk oor die algemeen fisies hard in hulle huise. Omdat hulle praktiese hulp nodig het, raak hulle maklik by okkultiese bedrywighede betrokke omdat hulle hoop om daardeur te oorleef en vooruit te kom in hulle onseker bestaan. Baie van hulle sal waarskynlik positief op Jesus se gelykenisse reageer as hulle dit sou hoor. Bid vir die leiers van die moskees wat vandag die preke lewer. Mag hulle ywer vir hulle god/Allah hulle dring om tot 'n ware kennis van die lewende God te kom (Rom.10:1-4). Bid ook vir ’n Goddelike ingryping in al die Pasjtoen-gemeenskappe, dat baie tot redding sal kom.

ROEP DIE HERE JOU OM IN ‘N MOSLEMLAND TE GAAN BID?
Om in die land, “on site”, oor die land en sy mense te bid, kan vir ‘n mens baie nuwe kennis en insigte gee omdat jy dit eerstehands sien en beleef. Die volgende webwerwe sal vir jou inligting gee oor verskillende nasies en onbereikte mensegroepe: www.30-days.net www.joshuaproject.net www.win1040.com Jy sal inligting kry oor gebedsreise en gebedswandelinge op www.waymakers.org of jy kan kontak maak met Projek Masedonië as jy meer inligting oor gebedsreise wil hê: The Macedonian Project. Privaatsak X07, Lynnwoodrif, 0040. Tel.: 012 997 3195 of faks: 086 630 3193. Webwerf: www.macedonian.org.za of e-pos: macsa@mweb.co.za

Dag 18: Marokko
Mohammed VI, wat in 1999 koning geword het, is die hoogste politieke, militêre en godsdienstige gesag in Marokko. Nieteenstaande sy pogings om omstandighede in die land te verander, is ’n groot deel van die bevolking steeds arm. Ryk mense neem dikwels arm mense in diens met die belofte om hulle te betaal, wat dikwels nie gebeur nie. Bid dat die koning self ’n persoonlike openbaring van die Here Jesus Christus sal ontvang en dat hy sy land met wysheid en goddelike insig sal lei. Sekere owerhede het al gelowiges in Marokko vervolg, baie is al gedreig en ander is in die tronk gegooi. Bid vir die Vervolgde Kerk, dat dit vreesloos sal groei te midde van moeilike omstandighede. Bid vir baie nuwe geleenthede wat ’n leefbare, ordentlike inkomste aan die armes sal verskaf.

WAT MOSLEMS GLO OOR JESUS
- Jesus is wonderbaarlik deur God in die maagd Maria se baarmoeder verwek.
- Jesus is slegs ‘n profeet, Hy is nie God nie (nie die Seun van God nie en nie God in die vlees nie).
- Jesus was eintlik ‘n goeie Moslem en Hy het ‘n vroeë vorm van Islam aan die Jode verkondig.
- Jesus het nie aan die kruis gesterf nie. Hy is direk hemel toe. Judas het sy gesig verander en in Jesus se plek gesterf as ‘n oordeel van God.
- Jesus sal eendag weer kom, Hy sal trou en kinders hê. Hy sal die foute regstel wat die Christene oor Hom verkondig het. Hy sal sterf, in Medina begrawe word en soos alle mense in die Laaste Oordeel geoordeel word.

Dag 19: Saoedi-Arabië
Koning Abdullah is die leier van Saoedi-Arabië. Dié land het ’n bevolking van 24,7 miljoen, waarvan slegs 2,2% Christene is. Die land is derde op die World Watch List (WWL) van lande wat Christene vervolg. Alle nie-Moslem aanbidding in die openbaar, is verbode. Oortreders kan in hegtenis geneem, in die tronk gegooi, geslaan, gedeporteer en soms ook gemartel word. Die meeste Christene is buitelanders. Hulle word oor die algemeen toegelaat om privaat te aanbid, maar sommige is al in hegtenis geneem, met die dood gedreig en gedwing om te gaan wegkruip. Saoediese gelowiges moet hulle geloof geheim hou. Bid dat diegene wat die Here Jesus deur middel van satelliet-TV-programme en die Internet leer ken, 'fellowship' en geestelike bemoediging sal vind. Vra dat buitelanders en die leiers van Saoediese gemeentes veilig sal wees en die moed en wysheid sal hê om standvastig te bly. Volhard deur gebed dat die Here Homself deur drome en visioene aan die miljoene mense in Saoedi-Arabië sal openbaar wat nog nooit Sy Naam gehoor het nie. Webwerf: http://members.opendoorsusa.org/site/PageServer?pagename=World_Watch_List_2010

Dag 20: Aisha – Mohammed se lieflingvrou
Aisha bint Abu Bakr, algemeen bekend as Mohammed se gunstelingvrou, het op sesjarige ouderdom aan die profeet verloof geraak. (Dit was ’n bekende praktyk in die destydse Arabië.) Aisha was Mohammed se enigste maagdelike bruid, wat deur sommige beskou is as ’n heilige teken dat sy ’n rol moes speel in die aanwysing van Mohammed se opvolger as leier van die Islamitiese gemeenskap. Aisha self het nie kinders gehad nie. Soennitiese Moslems het haar baie hoog geag omdat hulle haar as Mohammed se gunstelingvrou beskou het en een van die mees gesiene vroue van haar tyd. Sy word ook beskou as die bron van baie heilige tradisies aangaande Mohammed (Hadith). Toe Mohammed sterwend was, het hy sy laaste minute in die teenwoordigheid van die 18-jarige Aisha deurgebring en met sy kop op haar skoot gesterf. Na Mohammed se dood het Aisha die res van haar lewe as weduwee deurgebring ingevolge die bepaling van die Koran dat geen man met die profeet se vrou mag trou nie (Koran 33:53). Aisha is op die ouderdom van 65 jaar gedurende die maand Ramadaan oorlede. Net soos met die naam Khadijah, gee baie ouers hulle dogters die naam Aisha. Wêreldwyd is daar beslis honderde duisende van hulle. Bid dat die Here deure van geleenthede sal oopmaak vir die Aishas om die verhale oor die lewe van Christus te hoor en in Hom te glo. Bid vir alle Moslemmeisies, dat hulle tydens hulle grootwordjare geleenthede sal kry om van Jesus te hoor. Bid vir gesonde huwelike en die herstel van vroue se waardigheid.

HOE VERSKIL WAT MOSLEMS GLO VAN WAT CHRISTENE GLO?
Ramadaan, die maand wanneer Moslems vas en bid, is hierdie jaar vanaf 11 Augustus tot 9 September. Baie Christene is onseker oor die verskil tussen die geloof van Christene en die van Moslems. Dit is baie belangrik om te verstaan dat daar besliste verskille is, anders sal ons nie effektief kan getuig teenoor Moslems nie of verbouereerd raak wanneer hulle ons uitvra oor ons geloof en ons nie hul vrae kan beantwoord nie. Die volgende artikel is daarop gemik om bietjie meer inligting te gee oor sommige van die sleutelverskille en hoe om vir Moslems te bid. Dit is nie bedoel om ‘n volledige dokument te wees nie, maar verskaf ‘n eenvoudige gids om in Bybelstudie en gebedsgroepe te gebruik in jou gemeente, soos die Heilige Gees jou lei.

(1) Sommige van die sentrale geloofsartikels van Islam
Moslems aanvaar ses basiese geloofsbeginsels, of -artikels vir Islamitiese geloof. Die eerste is Geloof in Allah. Moslems glo daar is slegs een god, hy word Allah genoem en sy wil is soewerein. Die tweede basiese geloofsartikel van Moslems is Engele. Hulle glo in Engele soos bv. Gabriël wat volgens oorlewering die boodskap van die Koran na Mohammed gebring het. Die derde basiese geloof van Moslems is Die Heilige Boeke. Hulle glo dat Allah openbarings gegee het wat die Ou en die Nuwe Testament insluit, veral die Tora, Psalms en die Evangelies. Hierdie openbarings is egter vir hulle ondergeskik aan die Koran wat alle ander geskrifte oorskadu.

Christene glo in ‘n drie-enige God wat Een God is, dat God die Vader Sy enigste Seun gestuur het om ons lewens weer met God te versoen. God praat met ons hoofsaaklik deur Sy Heilige Gees en die Bybel en Hy het ‘n persoonlike verhouding met elkeen van Sy kinders.

Bid dat Moslems die drie-enige God, die Vader, Seun en Heilige Gees sal ontmoet en in Hom sal glo. Vra dat hulle sal begin vrae vra oor Jesus Christus en antwoorde oor Hom sal soek.

(2) Sommige van die sentrale geloofsartikels van Islam
Moslems aanvaar ses basiese geloofsartikels. Die vierde geloofsartikel van Moslems is Die Profete. Hulle glo dat Allah verskeie profete na die mens gestuur het soos bv. Adam (Allah se uitverkorene), Noag (Allah se spreker), Moses (Allah se spreker), Jesus (Allah se woord), Mohammed (Allah se apostel/profeet). Mohammed se openbaring word as die heel belangrikste beskou. Hulle glo hy is die Seël van die profete en die Vrede van die Wêreld. Die vyfde geloofsartikel van Islam is die Uitverkiesing. Hulle glo dat alles wat gebeur, goed of sleg, Allah se wil is en dit is sy finale besluit. Die sesde geloofsartikel van Moslems is Die Oordeelsdag. Hulle glo dat die goeie en slegte dade van die mens op ‘n skaal geplaas gaan word. Met genoegsame persoonlike verdienste en geregtigheid en die guns van Allah, mag hulle dálk hemel toe gaan. Al die ander mense gaan na die ewige hel.

Christene weet dat die hele Woord deur God geϊnspireer is en Sy beloftes deur die profete gespreek het, maar dat die getuienis van Jesus Christus die Gees van elke profesie is (Op.19:10). Ons word uit genade gered en God luister na en gee ag op die gebede van Sy kinders. Dit is die wil van ons Hemelse Vader dat selfs die goddelose gered sal word en nie sal sterf nie (Eseg.18:23-24). Redding is nie uit werke nie, maar gegrond op dit wat Jesus vir ons aan die kruis gedoen het.

Bid dat Moslems ‘n bonatuurlike openbaring van die genade en die liefde van Christus sal ontvang. Vra dat daar ‘n honger en ‘n dors in die harte van Moslems sal kom sodat hulle die Bybel sal lees en Jesus Christus as Verlosser sal leer ken en sodoende nie die oordeelsdag hoef te vrees nie, maar sal uitsien na die wederkoms van Jesus.

(3) Sommige van die sentrale geloofsartikels van Islam
Elke Moslem moet minstens vyf fundamentele godsdienstige vereistes nakom wat bekend staan as die “Pilare van die Godsdiens”. Voorgeskrewe gebede moet vyf maal per dag opgesê word.
Christene glo in een drie-enige God, die Vader, Seun en Heilige Gees en die drie is een. Daarom kan die god van Islam en die God van die Christene nooit dieselfde God wees nie. Vir Moslems is dit ondenkbaar dat Allah ‘n Seun kan hê. Vir Christene is Jesus Christus die Weg en die Waarheid en die Lewe. Hy is die enigste weg na die Hemelse Vader. Hy wat Jesus Christus verwerp, verwerp die Vader wat Hom gestuur het (1Joh.5:10-11).

Bid dat Moslems ‘n toenemende verlange in hulle harte sal hê om meer oor die God van die Christene te wete te kom. Bid dat diegene wat lang tye in gebed deurbring en na Allah roep, ‘n verlange sal hê om meer oor Christus uit te vind. Vra dat God die Moslems wat opreg na 'n sinvolle lewe soek, sal antwoord en Jesus Christus as Redder aan hulle sal openbaar.

(4) Sommige van die sentrale geloofsartikels van Islam
Die derde fundamentele godsdienstige vereiste van Islam is om gedurende die vasmaand, wat hulle Ramadaan noem, deur die loop van die dag te vas. Die vierde pilaar van Islam is Aalmoese aan die armes. Die vyfde godsdienstige vereiste van Moslems is die Pelgrimstog na Mekka (waar Mohammed gebore is). ‘n Laaste godsdienstige vereiste wat dikwels met die vyf pilare van Islam geassosieer word, is die Jihad, wanneer van Moslems vereis word om oorlog te voer om Islam te verdedig. Jihad kan verklaar word as intern (‘n geestelike stryd) of ekstern (om Islam te verdedig).

Christene is nooit onder verpligting om te vas nie alhoewel dit ‘n wonderlike dissipline is. Om vir die armes te gee is 'n Bybelse opdrag, maar dit word as ‘n daad van liefde beskou. Christene weet dat hulle deur genade gered is en nie goeie werke hoef te doen om verlossing te verdien nie. 1 Pet.2:12 sê in die Ou Vertaling: "en hou julle lewenswandel skoon, sodat as hulle van julle kwaad spreek soos van kwaaddoeners, hulle op grond van die goeie werke wat hulle aanskou, God kan verheerlik in die dag van besoeking." Goeie werke is 'n natuurlike uitvloeisel van 'n Christen se redding en getuig van die bonatuurlike werk wat God in hom gedoen het.

Bid dat baie Moslems wêreldwyd sal herbesin oor sommige van die pilare van Islam en sommige van hulle geloofsvereistes. Vra dat baie van hulle ‘n bonatuurlike ontmoeting met die Here Jesus Christus sal hê en sal kies om Hom alleen te dien.

Dag 21: Bahrein
Die halfmiljoen Bahreiners is afstammelinge van ondertrouery tussen inheemse inwoners en setlaars uit die Arabiese skiereiland en Iran. Daar bestaan spanning tussen die arm Sjiitiese meerderheid en die Soennitiese minderheid wat die politieke toneel oorheers, en tussen inwoners met ’n Arabiese en dié met ’n Persiese agtergrond. Die moontlikheid bestaan dat groter beperkings teen Christene ingestel kan word, omdat die regeringsministers onder Saoediese invloed met die Sjiitiese parlement meeding om vir wie die meeste ‘Islamities’ is. Bid asb. oor hierdie spanning en vra vir die Here om op 'n bonatuurlike wyse in te gryp in die lewens van die Bahreiners. Die Bahreiners kry soms die geleentheid om die evangelie deur buitelandse gelowiges te hoor en hulle voorbeeld te sien. Bid asseblief dat dit goeie en Godvererende voorbeelde sal wees wat hulle uit die duisternis na Sy Koninkryk sal trek.

Dag 22: Indië
Bid asseblief by name vir die Moslemgroepe in Indië wat sover bekend nog nooit die evangelie gehoor het nie en onder wie daar ook nie enige Christene woon wat kan getuig nie. Een voorbeeld is die Kunjra, wat in die Indiese staat Bihar woon, een van die mees kaste-bewuste state onder die Soennitiese Moslems. Die Soennitiese kastestelsel (anders as die Hindoe-kastestelsel) ken nie net aan elkeen sosiale status toe op grond van geboorte nie, maar beperk mense ook in die algemeen tot ’n tradisionele beroep of rol. Daarom bly die Kunjra bv. ’n laer kaste (klas) vrugte- en groenteverkopers en boere en kan hulle nie uitstyg nie. Hulle het nie die evangelie afgewys nie; hulle het dit net nog nooit gehoor nie. Bid dat meer kennis oor die Kunjra en ander groepe in die lys bekend sal word. Vra die Here vir toegewyde werkers om onder die Kunjra en ander groepe te gaan woon en die liefde van Christus teenoor hulle uit te leef en te deel. Bid dat die Here gebedspanne vir hierdie mense sal opwek. Dra hulle deur gebed aan die Here op deur bv. die groepe se name hardop voor die troon van genade te noem: Kunjra 822 140; Turk 530 187; Makhmi 469 871; Sudhan 446 757; Rawther 682 072; Bhatiara 259 188; Mahur 243 687; Yashkun 235 511; Bhatia 190 957; Jhojha 175 779; Nikari 147 684; Baloch 129 950; Molesalam 128 738; Shaikh (Marathi) 2 429 481; Shaikh (Marwadi) 1 541 534; Shaikh (Gujarati) 1 057 975; Shaikh (Maithili) 774 017; Shaikh (Magadi) 322 135; Shaikh (Oriya) 235 524; Shaikh (Mewari) 151 368; Shaikh (Konkani) 116 051; Pathan (Marwadi) 215 895; Shaikh (Dhundari) 404 463; Shaikh (Nimadi) 110 046; Shaikh (Shekhwati) 222 665.

Dag 23: Die Jola van Wes-Afrika
Die meeste Jola het nog nooit 'n verhaal oor Jesus en die Koninkryk van God uit die Bybel gehoor nie. Daar is egter 'n bereidheid om te luister. Ongeveer 560 000 Jola woon in drie lande in Wes-Afrika (Senegal, Gambië en Guinee-Bissau). Die meeste van hulle, sowel Moslems as Katolieke, handhaaf tot 'n mate die tradisionele animistiese gelowe en praktyke, insluitende die vrees vir toordery, bose geeste en vervloekings. Tans verklaar 90% van die Jola dat hulle Moslem is - slegs 2% is Christene. Bid dat die lig van Christus in die Jola se nedersettings en dorpe sal skyn. Vra dat hulle drome en visioene van Christus sal kry en dat hulle hulle vertroue in Hom sal stel. Bid veral vir die redding van die hoofmanne, godsdienstige leiers en ouer mans. Bid dat die plaaslike en nie-inheemse gelowiges die Woord van God op verskillende maniere by die Jola sal kan uitbring en dat die oorblywende gedeelte van die Nuwe Testament gou vir hulle beskikbaar sal wees. Bid dat die Jola oop en ontvanklik sal wees om die Woord in hulle eie taal te hoor, te verstaan en te glo.

Dag 24: Die Kho bevolking van Pakistan
Die normale daaglikse gebed van Islam is rituele oefeninge wat gefokus is op aanbidding en verheerliking van Allah (hulle god). Moslems het egter nie ‘n verwagting om Allah persoonlik te ken of sy stem te hoor nie. Persoonlike gebedsversoeke is wel moontlik in Islam, maar die formele rituele gebede is beslis die belangrikste gebedsaktiwiteite. Om twaalfuur vandag sal duisende van die Kho in Pakistan in die plaaslike Moskees bid. Baie glo dat hulle gebede vir hulle meriete by God sal verkry. Hierdie groep bestaan uit ongeveer 320 000 individue. Daar is sover bekend geen Christene in hierdie volkegroep nie en niemand spesifiek wat na hulle uitreik nie. Die Kho bied skynbaar sterk weerstand teen die evangelie. Die meeste van hulle woon in die hoogliggende bergvalleie waar dit baie moeilik is om te boer as gevolg van die droë, ruwe bergterrein. Die Kho se taal word Khowar genoem.
Gebed: Bid spesifiek vir deurbrake onder die Kho en dat hulle sal begin dink oor vrae soos ‘Kan God met my persoonlik praat?’ Bid dat God ook arbeiders na hierdie moeilike oesland sal stuur vir langtermyn bediening onder die stamme van Noord-Pakistan. Bid vir geopende deure na die Kho en dat die werkers wat daarheen gaan, die guns van die leiers sal verkry sodat hulle die werkers sal toelaat om die evangelie te verkondig.

Dag 25: Rajshahi, Bangladesh
Bangladesh het in 1971 onafhanklik geword. Die stad Rajshahi het prominensie verkry tydens die Britse besetting en alhoewel dit voorheen hoofsaaklik Hindoe was, is die stad nou 90% Moslem. Rajshahi is ‘n opvoedkundige sentrum vir die land, met meer as tien groot universiteite, kolleges en mediese skole. Die universiteit van Rajshahi alleen het meer as 25 000 studente. Rajshahi is ook ‘n mediese spilpunt vir die land, met onder andere ‘n Christen-sendinghospitaal. Daar is reeds drie Christelike huisgroepe in die stad met nog meer huisgroepe in die omliggende dorpies.
Gebed: Dank die Here vir hierdie deurbrake. Gaan voort om vir die huisgroepe van gelowiges te bid sodat hulle sal groei in volwassenheid, gehoorsaamheid, en kennis van God se Woord, ook dat toegewyde ouderlinge aangestel sal word wat daartoe verbind is om hulle kuddes te versorg. Party mense het begin om Bybels in 'n Bengali-dialek bekend onder Moslems in die stad te verkoop. Bid dat soekende mense God se Woord sal koop, dit sal lees en verstaan. In die groter Rajshahi distrik, is daar baie soekende mense en jong gelowiges wat sporadies bymekaar kom. Bid dat gelowiges bewus sal word van die noodsaak om gereeld bymekaar te kom om te bid. Bid dat die Here die geestelike gawes van die Heilige Gees wat die kerk nodig het om die werk te doen, aan die gelowiges sal gee.

Dag 26: Om ‘n bruid te vind in Kirghistan
Kirghistan het ‘n buitengewone sosiale probleem ten opsigte van die huwelik. Omtrent 40% van die bruide word eenvoudig ontvoer en dan gedwing om te trou. Dit is ‘n stamgewoonte wat oor baie geslagte strek. In die meeste gevalle stem die jong bruide nie in tot die ontvoering nie. Party stem in om moeilikheid te vermy, ander besluit werklik om hulle “noodlot” maar te aanvaar, Hulle gesinne word dan ontbied en die huwelik vind plaas. Baie van hulle bly by hulle nuwe man, maar ander probeer om te ontsnap en enkeles pleeg selfs selfmoord.
Gebed: Bid dat die Here Hom aan hierdie jongmeisies sal openbaar as ‘n getroue Vader en vir die Kirghistani-mense om tot ‘n werklike hartsverandering op hierdie gebied te kom. Bid dat die jongmeisies wat aan trauma en fisiese misbruik onderwerp is weer gesond sal word. Bid dat jong mans en meisies Jesus Christus as hulle Verlosser sal ontmoet en hulle lewens aan Hom sal oorgee. Bid vir emosionele genesing en vir die erkenning van die vrou se menswaardigheid.

Gebedsfokus op the Nag van krag (Lailat Ul Qadr)
Moslems glo dat die Koran gedurende hierdie nag aan die profeet Mohammed geopenbaar is. Omdat dit dan so ‘n spesiale nag was, wy Moslems, wat ekstra guns wil verwerf, die nag daaraan om Allah óf in privaatheid, óf in die moskee saam met ander Moslems te aanbid. Daar is ook sommige Moslems wat in die laaste 10 dae van die Ramadaan by die moskee gaan bly om verder voordeel te trek uit Allah se seëninge. Maar God is besig om te werk: baie Moslems het tot bekering gekom deur visioene en drome van die Here Jesus Christus wat hulle besoek het. Laat ons spesiaal vannag bid, dat baie Moslems ‘n persoonlike ontmoeting met die Here Jesus sal beleef. Bid dat God ons Vader Homself as die Vader van die Moslems sal openbaar. “Vader” is nie een van die 99 name van Allah nie.

Dag 27: Moslems in Korea
Gedurende die Koreaanse Oorlog van 1950 is die VN troepe na Korea gestuur om te veg teen die Noord-Koreaanse kommuniste. As deel van die oorlogspoging het Turkye ‘n battaljon soldate na Korea gestuur. Dit was die begin van moderne kontak tussen Koreane en Moslems. Twee Turkse Imams het gekom en die Moslemgeloof aan oorlogsmoeë Koreane gepropageer. Dit word gesê dat daar nou meer as 35 000 etniese Koreaanse Moslems is sedert die eerste twee Koreane Moslems geword het in 1955. Vandag is daar oor die hele land meer as 10 moskees en 40 gebedsentrums.
Gebed: As gevolg van die negatiewe impak van verskillende insidente waarby Koreane in Afghanistan en elders betrokke was, het weerstand en vrees vir die Moslems en Islam, in die harte van sommige gelowige Koreane gekom. Bid dat Christengelowiges hulle vrees sal oorkom, en maniere sal vind om die evangelie met Moslems te deel en dat blywende verhoudings met ander plaaslike gelowiges tot stand sal kom. Bid dat Koreaanse gelowiges ‘n hernude visie en begeerte sal kry om na die Moslems uit te reik.

Dag 28: Die Sabah en Sarawak van Oos-Maleisië
Daar is ongeveer 3 387 880 Sabah. Die groter Moslem bevolking, bestaande uit verskillende etniese groepe, is die gevolg van ‘n instroming van onwettige immigrante en vlugtelinge van Indonesië en die Suidelike Fillipyne. Alhoewel die Maleiers ‘n minderheidsgroep in Sarawak is (2 176 800) is daar baie Melanau, een van Sarawak se groter minderheidsgroepe, wat hoë posisies in die staatsdepartemente beklee. Te midde van die meerderheid Moslem bevolking bestaan daar een van die lewendigste en vinnig groeiende gemeenskappe van gelowiges in Suidoos-Asië. In die 2000 sensus in Sarawak, het 43% van die bevolking aangedui dat hulle Christene is en baie van die inheemse stamme het in Christus begin glo. Deurbrake onder die Maleiers kan ‘n noemenswaardige impak hê op die groter Maleisiese bevoling van die Maleise Skiereiland.
Gebed: Bid dat meer gelowiges doelbewus sal uitreik na hulle Moslembure en medewerkers. Bid vir die vestiging van kultureel-relevante, inheemse geloofsgemeenskappe in elke Moslem gemeenskap. Bid vir deurbrake onder die Maleiers en dat hulle oop en ontvanklik sal wees vir die getuienis van Jesus Christus en geestelik sal groei.

Dag 29: Brittanje
Daar woon vandag ongeveer 2.4 miljoen Moslems in Brittanje. Gebeure in die afgelope jare het dit baie moeilik gemaak vir Christene om goeie verhoudings met hulle Moslem bure op te bou. Kulturele misverstande en die isolering van Moslem gemeenskappe maak dit ‘n uitdaging vir Britse Christene om te weet waar om te begin met die uitreiking na Moslems.
Gebed: Bid dat Britse Christene nie die Moslems sal vrees nie. Bid dat ware vriendskappe oor die kultuurgrense tussen Christene en Moslems sal ontwikkel en dat werklike liefde die verhoudings tussen Christene en Moslems sal kenmerk. Bid dat die kerk ‘n vriendelike plek vir nuwe Moslem immigrante en ander vervreemde Moslems sal wees, en dat programme wat hulle ondersteun die liefde van Christus sal demonstreer. Bid vir geopende deure en kreatiewe maniere om die Moslems te bereik.

GETUIENIS: Pappa, hou op!
'n Pastoor van 'n plaaslike gemeente het sy assistent opdrag gegee om die evangelie in 'n ou deel van die stad ('n Moslem woonbuurt) te gaan verkondig. Die oomblik toe die eerste man met wie hy gesels, hoor van Jesus, was hy baie ontsteld en het die evangelis gevra om sy huis te verlaat. 'n Ruk later het die pastoor weer vir die jong evangelis gesê om na dieselfde huis toe te gaan en weer die evangelie daar te gaan verkondig. Hy het dit gedoen en weer met die man oor Jesus gepraat. Hierdie keer het die man begin skree en vloek en gedreig om hom te slaan as hy dit sou waag om terug te kom. Toe die pastoor hoor wat gebeur het, het hy vir die evangelis gevra om nog 'n laaste keer na dieselfde man te gaan. Die evangelis het eers geweier en gesê dat die man hom beslis sou slaan en miskien selfs sou doodmaak as hy sy gesig weer daar sou wys. Maar die pastoor was vasberade en het hom weer gestuur. Op pad het hy loop en bid. Die vorige twee keer het hy gebid dat God die harte van die mense met wie hy sou praat, moes oopmaak. Hierdie keer het hy gebid dat die Here hom moes beskerm. Hy het vir sy lewe gevrees.

Toe hy daar kom, het 'n vyfjaaroue dogtertjie by die hek gesit en speel. Hy het haar van die Here vertel, van die skepping en van Jesus Christus wat die Verlosser is. Na 'n rukkie het die pa agtergekom wat aan die gang was. Hy het met 'n stok by die huis uitgestorm om die evangelis te slaan. Net toe hy hom wou slaan, het die dogtertjie geroep: "Pappa, hou op! Moet hom nie slaan nie. Pa moet luister wat hy sê en van nou af elke Sondag kerk toe gaan." Die pa het die stok laat val en begin huil. Sy dogtertjie was haar hele lewe deur doofstom en Jesus Christus het haar wonderbaarlik genees. Die evangelis het nie van haar toestand geweet nie. Hy was net gehoorsaam aan die opdrag om die evangelie aan die verlorenes te verkondig, al sou dit beteken dat hy geslaan en dalk doodgemaak word. Die hele gesin van sewe het tot geloof in Jesus gekom.
Webwerf: http://www.pioneers.org/Connect/Media/MediaArchive/tabid/149/PostID/107/Papa-Stop.aspx

Dag 30: Werkers in die sendingveld
Ramadaan eindig vandag. Baie sendelinge is die afgelope maande gedeporteer of huis toe gestuur omdat vervolging in verskillende nasies toegeneem het. In sommige gevalle moes sendelinge weeshuise wat hulle vir langer as 10 jaar bedien het, agterlaat en die kinders agterlaat met geen ander heenkome en met geen waarborg dat hulle mekaar ooit weer sal sien nie. Nou meer as ooit, sal inheemse gelowiges die evangelie onder hulle eie mense moet versprei omdat dit te moeilik geword het vir buitelanders om in hierdie lande te werk.
Gebed: Dra die sendelinge wat uit die lande verban is, gedeporteer is, of gevra is om die Moslemlande waar hulle gedien het, te verlaat aan die Here op. Bid vir hulle om God se stem te hoor oor hoe hulle hulle werk moet voortsit, wanneer en hoe om terug te keer na daardie lande en hoe om die mense te help wat hulle moes agtergelaat. Bid ook vir dié wat die gebedsmateriaal voorberei, vir inisiatiewe soos die boekie om Moslems te help om na Christus te kom. Bid voortdurend dat God se beskerming, versterking en aanmoediging op sendelinge sal rus, sodat hulle in staat sal wees om aan te hou en om die werk wat God vir hulle gegee het, te kan voltooi. Bid dat nuwe deure in ander nasies sal oopgaan sodat hulle kan voortgaan met hulle werk. Bid veral ook dat God self die Vader van die weeskinders wat agtergelaat is, sal wees.

Download Full Article


Global 24/7 Newsletter - latest


Jericho Walls Newsletter - latest


Ramadan Prayer Focus: 11 Aug - 9 Sept 2010


Time to pray for men / Tyd om vir mans te bid


9th Watchman School of Prayer - 27 Sept - 1 Oct 2010


Message from Bennie Mostert


A Global call to intercession for the liberation of North Koreans/EA


Watch videos on prayer, etc. online


Prayer and fasting for Godly Governance (SA)


Currently on: Page 1 of 2
« Previous Page
Next Page »

Foxit PDF Reader
Having trouble to open/download documents?
Click here to download a free PDF Reader
     
Copyright©2007. All rights reserved
Best Browser - Internet Explorer 6; Resolution -800x600

Designed and hosted by
Interexcel - Web Design and web site design are the specialists of this Pretoria based company.
Questions or problems regarding this web site should be directed to webmaster@interexcel.co.za